Verlede Saterdag sit ek, vroulief, Buks en vroulief se twee sussies voor die TV reg vir die Springbokke vs Pumas wedstryd. Buks is my nege jarige drie been Fox terrier. Het het sy een agterbeen op 6 maande ouderdom verloor toe hy voor ‘n bakkie ingeloop het. Sedertdien operate hy baie bekwaam op drie bene. Tipies Fox terrier ly soms erg aan sense of humour failures.
Ek en die girls het gebraai net voor die geleentheid en ek en die Black Labels is reg vir aksie.Almal is opge’charge’ en die nuwe Suid Afrikaanse vlag wapper trots bo die TV. Sommer vroeg in die begin toe die Pumas begin punte aanteken raak ek half mismoedig en tel vir Buks op my skoot. Ek begin maar toe om vir hom te terg en beskuldig hom dat hy ‘n under cover Puma fan is. Oudergewoonte terg ek hom terwyl hy op my skoot sit en TV kyk. Hoe meer ek hom irreteer hoe hoër klim sy revvs. Hy klink later of hy wil opstyg en ek kan sien dat hy lekker bemoerd is en dat ek hom liewer moet uitlos. Met die is daar skielik weer aksie op die TV en ek vergeet van Buks en fokus op die TV. Skielik gil Buks:” Jou bliksem!” en hy byt my vol op my neus. Met die raakbyt slag skrik ons albei en ruk weg. Daar skeur my hele neus vleuel oop teen die septum en die helfte van my neus waai in tempo met die vlag bo die TV. Buks skrik en spring van my skoot af. Hy het seker verwag dat ek hom gaan vermoor of iets. Sy hele pels is vol bloed (myne) en ek hol badkamer toe om die skade te aanskou. Ek sien sommer dis hospitaalsake die. My neus lyk kompleet soos die hoog eerwaarde biskop Tutu s’n – dit bedek omtrent my hele wang. Die susters skrik hulle deurmekaar en vroulief gryp die kar sleutels en draf kar toe met die res van ons agterna.
By die hospitaal maak ek of my hele kop afgebyt is en word beloon deurdat hulle my dadelik deurstuur na die ondersoekkamer. Die ontvangsdame kondig af dat slegs een persoon mag saamgaan. Ek beduie dat ek met al drie getroud is en ons hele lot waggel na die ondersoekkamer. Teen die stadium het die kombinasie van skok en alkohol begin inskop en die susters wil solank my bloeddruk neem en my ondersoek terwyl ons wag vir die dokter. Ek dring aan op ‘n lies ondersoek en dit laat hulle voorlopig hul lus vir ondersoek laat vaar.
Die suster daag op en gee my ‘n Tetanus inspuiting sonder dat ek dit agterkom. Die susters se oë dop om toe hulle die inspuiting sien en die suster jaag hulle uit sodat die dokter my neus weer aan my gesig kan vaswerk. ‘n Paar steke later is ek weer reg om huis toe te gaan. Die susters het intussen die tyd verwyl deur op rolstoele in die gang rond te jaag en die hospitaalpersoneel is verlig om die laaste van ons te sien.
Op pad huistoe sê Soekie so ewe droog: ” Sjoe swarrie, amper was dit nou neusie verby!” (By the way ek is nie kwaad vir Buksie nie en het hom niks aangedoen nie. Dit was my skuld en ek aanvaar dit so. In die vervolg sal versigtiger wees vir sy skerpkant.)
© ERNYST 2019. Website by ERNYST