Vakansie 2009 - Die hardegat bobbejaan

Vergeet om te se van my seer rug. Het Woensdag oggend opgestaan met laer rugpyn en het tot gister nog geloop soos iemand wat in sy broek gekak het. Mammakie moes dokter met masering en Deep Heat. Sy wou nie val vir my voorstel dat ‘n pubic massage moontlik die probleem kon aanspreek nie. Is darem nou al heelwat beter. Ek bedoel die rug. Iets wat ek vreemd gevind het toe ons Donderdag by Golden Gate opdaag was die algehele gebrek aan bobbejane. Ons was egter nog steeds voorbereid op onverwagse aanvalle en het seker gemaak dat ons nie kos buite los as ons nie by die kamp is nie.

Ek het gisteraand ‘n hoenderpot gemaak en die plan was om dit wat oorbly vanmiddag te eet en die orige hoender vanaand te braai. Toe ons gaan slaap pak mammakie bakstene op die pot se deksel om moontlike indringers af te sit. Vanoggend word ek net voor 5 wakker van ‘n geraas buite by die pot. Daar sit ‘n moerse bavi-fokkin-aan en smul te lekker aan ons potjie. Ek kan eintlik in die daktent hoor hoe klap die ou sy lippe van genot. Ek maak vir mammakie wakker en se: daar kak ons middagete – die fokkin bojaan het ons gebeat. Die ou draai nogal die pot in die ronde om seker te maak hy kom by al die kante by. Ek was half bang dat die ou sou wegloop met ons pot.

Toe ruik hy die rys wat ek in mammakie se AMC classic pot wat sy by my ma ge-erf het, gemaak het. Hy gryp die AMC classic pot en stap so ‘n paar meter weg voor hy hom weer plat op sy gat tuismaak en ons rys begin vreet. Ek se vir die bobbejaan: boggom en hy neem die AMC classic pot en begin wegstap. Nou is mammakie baie benoud en beveel my om dadelik die pot te gaan afvat by die bobbejaan, want nou het ek kak gemaak. Not de fok se ek. Die fokken ding gaan my moer, want hy is nogal groot. Ek besef dat ek nou moet kies by wie ek op my moer wil he. By mammakie of die kees. Ek ken vir mammakie as sy befok is en kies toe maar die kees. Ek ken die ou in elk geval glad nie en miskien kan mens met hom redeneer en op sy mensliewendheid staatmaak om die pot terug te kry. Ek het dadelik besef dat mammakie nie oop was vir onderhandeling nie en ook nie baie mensliewend op die stadium nie.Die kees was my enigste opsie. Die rys kan hy maar vreet, maar wil hy nie asb maar die potjie teruggee nie.

Die kees het my net so ‘n fok jou kyk gegee en laat wiel met die pot. Ek agterna, maar met ‘n veilige afstand tussen ons en gereed om vinnig om te draai en bakkie toe te hol as kees sou besluit om my te tackle. Anyway daar is kees toe weg met mammakie se erfstuk en ek is so semi in die kak oorlat ek nie vir kees kon oortuig om die pot terug te gee nie. Mammakie raak weer aan die slaap en ek besluit om die pot te gaan soek. Ek was seker ek het die pot iewers teen klippe hoor kap. Dit beteken dat hy deur die stroompie langs die kamp ontvlug het. Berg op.

Met moerse gesukkel en dorings wat my krap fynkam ek die area teen die berg op. Seker so halfpad berg op sien ek die mooiste ding wat ek in ‘n lang tyd gesien het. Mammakie se AMC pot. Ek bekruip die ding, net vir ingeval die kees my in ‘n lokval wil lei. Die optel en weghol was een beweging. Nou is ek weer in mammakie se goeie boekies, want ek het haar pot uit die mag van die kese bevry. Sy het glad nie my storie van hoe ek en die bobbejaan handgemeen geraak het en ek uiteindelik die fight gewen het, gesluk nie. Any way dit maak ook nie saak nie. Potjie is weer veilig.

Ons het vanoggend ‘n baie mooi staproete gedoen. Net jammer van sommige mense wat so mors. Plek-plek le daar lee koeldrank bottels en papiere. Vanmiddag gaan ons – as ons nog kan loop – die Brandwag roete uitslinger. Van bo af behoort daar ‘n fantastiese view oor die area te wees. Hoop net ons is dan nog in ‘n toestand om te kan sien. Miskien gaan daar dan ander mense ook die roete doen. Dan kan hulle ons miskien terug dra.

Intussen het die kees versterkings gaan haal en patrolleer hulle die kamparea om te sien wat daar te aas is. Ons hoop om so ‘n plundertog op film te kan vasle.

Gaan eers ‘n wyle weer ernstig drink. Is nou dors.