Memoirs van 'n Worshond - Deel 1

Enige storie moet seker iewers begin. Dus het ek besluit om die storie te begin by die begin, naamlik die geboorte van Worshond en die verloop van die storie van daar. Worshond is ‘n Isuzu KB280 dubbelkajuit 4×4 bakkie, vervaardig in die jaar 2000 AD en gekoop deur Spyker de Bruin iewers in 2001. Die bundel gebeurtenisse of stories beeld die verandering en avontuur wat Worshond gebring het in die lewe van die de Bruin familie. ‘n Doodgewone voorstedelike gesin wat bestaan uit die volgende lede:

Spyker – die vader en hoof van die familie wat homself as ‘n wit squatter beskou wat op sy gelukkigste is iewers diep in die grammadoelas en ver weg van die stad se gewoel en gepaardgaande skares van mense. Kom ons hou eers hierby. Verdere psigo-analise sal volg soos die draad van die storie uitgebewe word.

Wyona (a.k.a. Ouna) – die moeder en alternatiewe hoof van die familie met ‘n spesiale voorliefde vir skares mense, stalletjies en winkels (alles wat pa Spyker met elke gryntjie van menswees verafsku en probeer vermy met alle middele tot sy beskikking.)

Ernie – oudste seun en ongeveer 15 jaar oud tydens die aankoop van Worshond.

Trevor – jongste seun en ongeveer 13 jaar oud tydens die aankoop van Worshond.

Tess – ‘n pragtige Alsation teef wat teen die boekstawing van die gebeure reeds oorlye is weens nierversaking. Sy het water afkomstig van die gesin se soutwater swembad verkies bo die vars water wat gedurig tot haar beskikking was met die gevolg dat haar nierfunksie in so ‘n mate aangetas was dat dit blykbaar haar brein begin vergiftig het.

Buks – ‘n dapper drie been Fox terrier wat sy een agterbeen verloor het, toe hy op ongeveer 6 maande ouderdom voor ‘n bakkie in die straat beland het. Hy het skynbaar bomskok opgedoen na die ongeluk aangesien hy sedert die ongeluk aanhoudend ‘n bewerasie op hom het.

Die verloop van gebeure vanaf die geboorte of liewer die aanskaf van Worshond word vanuit die einste Worshond se perspektief vertel. Die name van die sommige karakters en instansies is verander om moontlike laster eise te voorkom, en die storie is min of meer (of sover die verteller se vrot geheue dit toelaat) op die ware verloop van situasies gebaseer. Die skrywer matig hom egter die reg toe om artistieke vryheid te gebruik waar hy dit mag nodig ag. Indien enige leser homself in enige van die gebeurtenisse herken, mag dit bloot toeval wees as hy/sy nie pertinent op die naam genoem word nie. Waar daar wel na karakters op hul regte name verwys word, maak die verteller staat daarop dat diegene wel die humor in die gemelde situasie sal raaksien en nie die vertelling te ernstig sal opneem nie. Net ‘n word van waarskuwing dat die taalgebruik nie altyd so heeltemal akademies is nie en soms selfs redelik platvloers mag wees – afhangende van die situasie.

DIE BEGIN

Volgens pa Spyker, het die ding begin toe sy moer gestrip het tydens die gepakkery van sy Honda Ballade, wat op daardie stadium, die gesinsmotor was om met vakansie te gaan. Ma Ouna het elke keer verwag dat hy die totale inhoud van die huis (pa Spyker se beskrywing) in die Honda se kattebak moes inpas. Dit was die basiese tendens elke keer wanneer die gesin iewers gaan om te gaan kuier. Die gevolg was dat pa en ma die grootste deel van die vakansie vir mekaar geknor en wit-oog gegooi het (soos twee bedonnerde Fox terriers wat meeding vir dieselfde been).

Pa het sy lot bekla by sy oom Thys, wat getroud is met sy ma se suster. Oom Thys het ‘n Isuzu KB280 dubbelkajuit 4×2 bakkie gehad. Volgens hom moes pa vir hom ook so ‘n bakkie koop in ‘n poging om die huwelik te red. Aanvanklik was pa gekant teen die voorstel. Volgens hom sal ieder in elk weer verwag dat hy hul tuinvullis moet wegry net omdat hy nou ‘n bakkie het. Ma het weer gedink dis ‘n goeie idée en dat pa weer besig is om die hol uit die hoender te ruk soos gewoonlik. Ten minste was daar nou weer iets anders waaroor hulle kon verskil en baklei.

Toe eendag kom die keerpunt nadat ‘n paar van pa se kollegas by die werk vir hulle dubbelkajuit 4×4’s aangeskaf het. Skielik het pa ‘n hele ander siening oor die saak toe hy hoor hoe lekker dit is om by Grotto strand op die strand te ry en die hele dag by die see te kuier sonder om deur die massas vertrap te word. Daardie tyd was dit nog wettig om op sommige strande met die nodige permitte te ry. Pa sê vir ma dat hy nou ‘n 4×4 wil koop en ma sê hy is alweer besig om aan die hoender se kloaka te karring. ‘n Gewone bakkie sal mos doen. Waarvoor dan nou meer betaal vir ‘n 4×4? Wat wil pa doen met ‘n 4×4? Daar was selfs ander mense wat ook wou geweet het wat pa eintlik wou doen met ‘n 4×4. Pa se redenasie was dat hy nie weet nie, maar dat hy weldra sal uitvind. Hy het klaar besluit.

So het ek toe in die lewe van hierdie unieke gesin gekom. Aanvanklik was ek sonder naam en is daar slegs na my verwys as die four by four. So al asof ek nie ook ‘n binneste het nie. Hoe ek aan my naam gekom het, sal later verduidelik word.

DIE EERSTE 4×4 UITSTAPPIE NA GROTTOBAAI

Shame. Pa kon nie wag om my in besit te neem nie. Het alle literatuur wat hy in die hande kon kry verslind om die fyner kunsies van off-road ry te verstaan. Daar is onmiddellik na my aflewering ‘n permit by natuurbewaring uitgeneem om op die strand te kan ry. Pa glo dat mens by die letter van die wet moet bly.

Die eerste Saterdag oggend is die piekniek mandjie gepak met kos en bier en die hele gesin – behalwe Tess en Buks – het afgesit Grotto strand toe om my (en pa) se vermoëns te gaan toets. Pa kon nie vinnig genoeg van die teer afkom sodat hy my in low range en vierwiel aandrywing kon skakel nie. Wat ‘n fiasco! Hoe dieper ons die duine in is hoe meer het my momentum afgeneem. Binne die bestek van twee kilometers val ek so vas dat daar geen verdere sprake van momentum of beweging in enige rigting moontlik is nie. Ma het dadelik besef dat nou ‘n goeie tyd sal wees om te swyg en die seuns na veiligheid te lei, voordat die storm losbars. Ek vermoed dat sy toe geweet het hier kom ‘n ding.

Pa het vol bravado uitgeklim en sy rooi graaf agter uit die bak gehaal. Hy het iewers gelees van bakkie uitgrawe in een van sy 4×4 boeke. Pa het gegrawe en sand uitgeskep totdat hy gereken het hy sal my nou maklik uit die penarie kry. Maar niks gemaak nie. Dis asof ek met kettings aan daai plek vasgeketting is. Val net al dieper vas. Die uitgrawe siklus en gepaardgaande onvermoë om uit die situasie te kom, is ‘n paar keer herhaal. Ek kon sien pa is besig om sy moer te strip. “Smaak my ek het k*k gekoop” skree hy vir ma. “Die bleddie bakkie kan dan nie eens in sand ry nie” vervolg hy. Uit pure desperaatheid sit hy die graaf onder een van die agterwiele en spin omtrent 10 000 kilometer se lewe uit die band. Nou is die ou lekker bedonnerd en begin al die afstand meet tussen hom en die twee laaities wat begin om hom te koggel en te spot.

“Miskien moet jy bietjie gaan sit en rus. Hier sal seker weldra iemand verbykom wat sal kan help” waag ma dit vanaf haar veilige afstand. Pa is nou al so bedonnerd dat daar sulke vuurballe by sy oë uitkom. “As iemand nou hier stop en hulp aanbied dan donner ek hom met die graaf” gil hy soos ‘n waansinnige in ma se rigting. Sy selfvertroue en selfbeeld totaal in flarde. Ek vermoed dat pa nou besef het dat hy nagelaat het om iets baie basies te doen, maar dat hy nie sy vinger kon lê op wat dit was nie. Hy neem toe maar die wyse besluit om langs ‘n bos te gaan sit en te ‘sulk’. Skielik gaan daar vir pa ‘n baie helder lig aan. “Die banddruk” skree hy vir ma. “Ek het vergeet om die blerrie bande af te blaas”. Skielik het almal weer hoop en kyk belangstellend toe hoe pa die bande afblaas. Pa se gemoedstoestand verbeter by die sekonde en ek vermoed die res van die familie bid dat die aksie die gewenste uitwerking sal hê. “Raait klim in, mense. Hier gaat ons” sê pa toe hy klaar is en wonder bo wonder is dit asof ek skielik weer vastrap kry en daar gaan ons. Na seker meer as ‘n uur se gesukkel is ons weer op pad. Ek kan maar net wonder watter onheil ons volgende gaan tref aangesien ek – en die ander – nou min of meer ‘n idee het van die diepte van pa se teoretiese, sowel as praktiese kennis van die spesifieke vakgebied.

In ‘n oomblik van ongekende wysheid het pa by die eerste plek waar mens kon parkeer en afstap na die see gestop en aangekondig dat dit sover is wat ons vandag sal gaan. Hy sal eers weer met ander wat meer kennis het, gaan kers opsteek voordat hy dit verder sal waag. Nadat hy en ma rustig ‘n bier gedrink het het ons die terug aangepak en veilg sonder verdere insidente aangekom by die punt waar pa weer die wiele moes oppomp voordat ons die pad huis toe kon aanpak.