Memoirs van 'n Worshond - Deel 2

Pa Spyker koop mos toe vir hom en Antie Ouna ‘n daktent net omlat dit so ‘n moerse bargain was. Die ding werk so. Oom Brandweer bel vir pa om hom te vertel van die siel wat al sy lorrietjie se goete verkoop en sommer vir goedkoop. Pa Spyker bel dadelik vir ma Ouna om die nuus oor te dra, want ma het hoeka al lankal in die rigting geskimp. Pa Spyker weet as hy die ding gaan koop sonder dat ma sê dis OK is daar groot probleme. Ma sê dis OK as pa geld het om dit te betaal. Pa sê hy is in elk geval finansieel so in sy moer dat hy net sowel maar die ou tentjie kan koop.

Die Donderdag voor die Hexrivier trip besluit pa Spyker dat die tent nou moet daktoe. Niemand het eers die ordentlikheid om vir my te vra of ek kans sien nie. Hulle glo mos dat die Worshond alles kan doen. Ma en die kinners word aangetree vir die operasie. Ek wat Worshond is, het nie medies ge-swot nie, maar ek ken k*k as ek dit sien. Pa se moer kan tog so lekker strip as die familie nie kan saamwerk nie. Die tent word toe gelig met Pa en Trevor aan die een kant en ma en Ernie aan die anner kant. Toe die kinders begin kla oor die tent wat so swaar is, weet ek hier kom ‘n ding. As pa sukkel met iets, moet jy nie nog met hom sukkel nie. Hy probeer nog uitfigure hoe die ding op die dak moet kom toe die geweeklaag begin opstyg. Pa Spyker kan vreeslik vloek as hy die dag tyd het en die gekla prikkel toe sy vloekspiere. Dis asof ‘n engel van bo hom aanraak, want skielik begin hy in tale praat. Ek het nooit geweet dat mens die F-woord op so baie plekke kan gebruik nie. Hy split selfs woorde op om die F-woord tussen in te gooi. Die mooi daktent wat so ‘n moerse bargain was, is toe skielik die dak- (F-woord) – tent. Hy begin by A en sê al die vloekwoorde op tot by Z en toe weer terug tot by A. Selfs die arme ou wat die tent ontwerp het se ma word betrek by die alleenspraak. As dit nie was vir die feit dat almal nog op daai stadium gespook het om te keer dat die daktent die windscrreen uitval nie, het Pa seker ons hele gesinnetjie uitgewis. Die ou was vreeslik moerig. gelukkig was hy weer sy ou minlike self toe die tent eers op is.

Toe kom die volgende skok. Die Worshond is nou net so hoog soos ‘n Landrover en pas nie meer in die garage nie. Foeitog, toe is hy gatvol, want hy is te lief vir my om my buite te laat slaap. Hy roep toe die res van die familie om weer die tent af te haal, maar ma Ouna sit toe haar voet neer. No ways stel sy haarself en die kinders weer bloot aan hierdie beneukte man nie. Of Pa moet dit self afhaal, of die Worshond moet buite slaap. Pa moes toe maar ingee en ek, die arme Worshond, moet buite slaap. Pa besluit toe daar en dan dat die garage deure moet gelig word sodat ek kan pas. Tot tyd en wyl dit gebeur moet ek maar buite slaap.

Vrydag oggend werk toe kom die volgende skok. Die Worshond pas ook nie meer in die parkeer garage nie en moet arme ek maar buite saam met die platkarre staan. So gaan dit toe goed tot verlede Maandag oggend. Ek het geweet dit moet een of ander tyd gebeur. Pa vergeet van die daktent op die Worshond en probeer by die parkeer garage inry. Skielik is daar net ‘n groot slag.Ek dog my hele dak word afgeruk. Dis toe die daktentwat kap. Toe begin pa Spyker homself te vloek. Ek sal maar liewer nie uitpraat oor die gesprek nie. Gelukkig was die skade minimaal. Dieselfde aand is die daktent afgehaal met die hulp van die buurman en kon ek ten minste weer in die garage en parkeergarage slaap. Wag nou maar vir die garage deur om gelig te word.

By ‘n ander keer vertel ek van die trip met die daktent na die Hexrivier 4×4 roete.