Memoirs van 'n Worshond - Deel 4

Pa is so begeesterd deur sy drang om in die natuur te wees dat hy plek bespreek vir vyf dae by Algeria in die Sederberge tydens die Junie skoolvakansie. Dis die naweek net na die eerste amptelike 4×4 uitstappie saam met oom Coenie en pa se kop werk oortyd om alles wat hy gesien en gehoor het te verwerk. Daar is terloops nooit weer na die episode van die withond verwys deur enige iemand nie en pa het ‘n heilige respek ontwikkel vir daai medisyne van oom Coenie ondanks sy liefde vir ‘n goed gestookde witblitsie.

Die res van die familie is half versigtig optimisties oor die nuwe avontuur wat pa gereël het. Hulle vermoed dat daar weer vir almal verskeie lewenslesse te leer sal wees. Pa het omtrent ses maande se salaries uitgegee op verskeie gadgets wat volgens hom onontbeerlik is vir die soort van ekspedisies waartoe hy die familie verbind het.

Ons is in die reën weg by die huis en het heelpad in die reën gery tot by Algeria. Ons is toe ook – soos ma gesê het – die enigste mense in die kampplek. Die mense by ontvangs het probeer om pa in ‘n huisie in te praat, maar die ou is weer hardegat soos gewoonlik. Kamp gaan ons kamp, want ons moet leer om aan te pas by omstandighede.

Pa kan kies en keur oor waar hy wil tent opslaan. Hy hou mooi kop en kry ‘n plek naby die ablusieblok – seker maar om in ma se goeie boekies te bly. Daar is baie kampplekke om die ablusieblok, maar om een of ander rede besluit hy op ‘n area wat so half in ‘n holte geleë is. Die reën het so bietjie bedaar en pa jaag almal aan om vinnig kamp op te slaan voor dit weer begin reën. Die konfigurasie van ons kamp het as volg daar uitgesien: die gazebo in die middel om as kuier plek te dien, dan twee tente aan weerskante van die gazebo sodat mens vanuit die tente tot onder die gazebo kan kom met die minimum waterskade. Die twee boeties deel die een tent en pa en ma die ander een.

Die eerste geslag tente was van daai nylon dome tente. Pa en ma se tent het nog so ‘n afdakkie voor gehad met sykante. Dit het gedien as stoorplek vir die proviand. Alles was in daai lelike rooi kas en ammo kaste verpak. Pa is baie in sy skik met die kampuitleg. Veral toe dit kort daarna hard begin reën en almal lekker onder die gazebo kon kuier sonder om nat te reën.

Alhoewel ons die enigste mense was wat daar gekamp het, was daar nogal heelwat bobbejane wat baie geinteresseerd was in ons doen en late. Van hulle het tot so ongeveer 20 meter van ons gekom om dinge uit te kyk. Pa sê nogal dat die lot bobbejane eintlik baie vriendelik was om ons so persoonlik te kom verwelkom in hulle natuurlike habitat. Hy vertel vir die res van die familie hoe lekker mens en dier in harmonie kan saamleef.

So laat middag se kant begin die eerste probleme kop uitsteek en onthou pa skielik hoekom mens liewer nie in ‘n holte moet kamp opslaan nie, maar eerder op hoë grond. Ons hele kamp is besig om in ‘n swembad te verander. Ma en die boeties begin in opstand kom teen die swak beplanning van die kampkommandant. Pa besef dat dit nou tyd is vir ‘n boer om ‘n plan te maak. Hy gaan haal die rooi graaf – waarmee hy my die slag by Grottobaai probeer uitgrawe het – en begin slote grawe.

Die hele area lyk later soos die Romeine van ouds se aquaducts. Pa wend hom kort-kort tot sy mediese kassie om hom te versterk in sy pogings om die water massa weg te keer van die kamp. Hy is nou in survival mode. Nie net teen die elemente van die natuur nie, maar ook teen die res van die familie. Sy mediese tas se inhoud bestaan uit baie Old Brown Sherry – oubies – en kopseerpille. Op die stadium wend hy hom slegs tot die oubies gedeelte, want volgens hom is dit bewys dat oubies die beste teenvoeter teen koue is. Vra maar vir almal wat duik langs die Weskus. Die slote het al hoe krommer en skewer geraak hoe langer hy gegrawe het en hoe meer die vlak van die spesifieke medisyne gedaal het. Op die stadium was daar seker so 20 bobbejane van alle grotes en geslagte wat pa se aktiwiteite met belangstelling dopgehou het. Party van hulle het selfs nader gekom met ‘n woordjie van advies hier en daar.

Pa was later in so ‘n joviale bui dat hy selfs van sy oubies aangebied het aan die locals – soos hy na die bobbejane verwys het. Dit lyk nie of die locals juis oubies geken het nie, want niemand van hulle het sy mildelike aanbiedinge aanvaar nie. Die aand rondom die kampvuur word daar besluit dat ons die volgende oggend die pad na Wuppertal sou aandurf omdat ma graag die skoenfabriek daar wou besoek.

Vroeg die volgende oggend val ons toe in die pad. Kort nadat ons links gedraai het by Matjiesrivier gaan pa oor in 4×4 mode. Volgens hom is dit wat die omstandighede nou vereis. Hy skakel oor na low-range en ons ry byna drie uur lank tot net voor Wuppertal. Daar gekom is die Tra-tra rivier in vloed en pa besluit in ‘n oomblik van ongekende wysheid dat dit te onveilig is om deur die rivier te ry en ons moet maar omdraai. Die res van die familie is teen die tyd al redelik gatvol vir die slakkepas en die geskud en pa se shares is maar laag. Op hulle aandrang skakel hy oor na high-range om die terugtog te verhaas. Dit druis in teen alles wat die ou nou al dink hy weet, maar hy weet ook al wanneer hy nie sy luck by ma moet push nie.

Terug by die kampplek word ons vanaf die hek tot by die kampplek begelei deur ‘n afdeling van die locals. Pa dink dis baie cute dat hulle soveel moeite doen om ons te laat welkom voel. Toe ons by ons tente kom en pa uitklim, besef hy daar is groot fout. Orals om die tent lê half gevrete aartappels, tamaties, wortels ens. Toe hy hulle tent se afdak oopzip sien hy dat al die ammo kaste oopgemaak is en dat die locals ‘n moerse party in ons afwesigheid gehou het in die tent. Die stoele is omgeskop en die hele area is in wanorde. Volgens pa was van die bobbejane definitief in die army, want hoe anders kon hulle weet hoe ‘n ammo kis se sluitmeganisme werk.

Ma is moerig oor die kos wat so gemors is en die kinders vind die hele petalje ammusant. Pa is in sy eer gekrenk, want sy vermoë om karakter te ontleed skiet blykbaar ver te kort. Die locals het hom lelik gedrop en sy vriendelikheid en vertroue misbruik.

Pa het twee ou army reënjasse in die tent gehou vir ingeval iemand toilet toe wil gaan as dit reën. Dis van daai nylon reënjasse wat eintlik net die groot druppels uitsif. Die kleintjies kom deur en die persoon wat dit dra raak eintlik natter as wat hy sou wees daarsonder. Die reënjasse lê nog steeds opgevou waar pa dit gelos het. Dit lyk nie of die locals juis ‘n doel daarvoor gehad het nie. Trevor ontwikkel toe ‘n behoefte en moet toilet toe. Pa dring aan dat hy ‘n reënjas aantrek, want dit reën nou weer sterk buite. Net voor Trevor die tent uitstap, vra Ernie wat se ding sit daar voor aan die linker kant van die reënjas. Dit lyk soos ‘n rosette. Daai goed wat gewoonlik by interskole sportbyeenskappe gedra word. Pa gee dit net een kyk en sê ontsteld:” Maar dis mos stront wat daar sit!”. Dit lyk toe asof die locals die reënjas as ‘n toilet gebruik het en dit weer mooi opgevou het. Dit was seker hulle idee van ‘n siek grap. Nodeloos om te sê dat Trevor toe maar sonder ‘n reënjas toilet toe is.

Nou is almal die moer in vir die locals wat so min respek vir hul gaste het. Trevor en Ernie bedink allerhande planne om die locals terug te kry vir wat hulle aan die familie gedoen het. Pa roep hulle egter tot orde en sê dat ons eintlik in die locals se omgewing is en moet aanpas. Die bobbejane raak hans omdat mense kos in die asblikke gooi of kos oop by hul tente los as hulle nie daar is nie. Die bobbejane het dus met tyd geleer om mense met kos te assosieer.

Die aand braai ons weer in so ‘n misreëntjie. Die braaiplek is seker so 10 meter weg van die tente af. Skielik lyk dit asof pa hulle se tent lewe. Die hele tent bewe soos in ‘n windstorm, maar daar is geen wind nie. Soos uit een stem kom dit: “Dis weer die bobbejane!”. Pa en Ernie storm na die tent, maar die bobbejaan is vinniger as hulle. Hy laat spaander met ‘n tray eiers onder sy een arm en ‘n sakkie met Ernie se sigarette en sy Zippo aansteker in sy ander hand. Foeitog Ernie het so pas die Zippo aansteker present gekry en was nogal redelik heilig daarop. Hy skree so in die hardloop vir die bobbejaan: ” Los my %^$# Zippo jou aap!” Die bobbejaan los egter toe die eiers en laat spaander met die sigarette en die Zippo. Die helfte van die eiers was tot niet en die sigarette en die Zippo het ons nooit weer gesien nie.

Daardie nag het die Rondegatrivier ook afgekom en was ons vasgekeer in die kamp. Dit was nogal interessant om te sien hoe die water massa groter word en die kampplek kleiner. Pa het die grootste deel van die volgende dag gewy aan sy waterafvoerstelsel wat toegeneem het in kompleksiteit en afgeneem het in funksionaliteit hoe langer ons daar gebly het. Die oubies het heel waarskynlik mildelik bygedra tot die deurmekaarspul. Niemand was meer lus vir die army reënjasse nie, en pa prakseer toe reënjasse uit swart plastiese vullissakke. ‘n Gat vir die kop en twee gate vir die arms. Dit was nogal een van die min schemes van die ou wat gewerk het.

Op aandrang van die familie het pa ingestem om ‘n dag vroeër op te pak en huiswaarts te keer. Op daardie stadium was daar niks meer wat droog was nie en pa se medisyne tassie was leeg. Ek glo dit was die finale strooi vir pa, anders sou hy nog gebly het. Natuurbewaring het pa vertel van ‘n ou 4×4 bosbou paadjie wat hy kan gebruik om te ontsnap.

Vier dae later is ons weer tuis met vele lesse geleer en pa reeds weer besig om te beplan vir die volgende ekspedisie.