Boeta Trevor het Pa se Microsoft Word op sy rekenaar opgradeer na die jongste weergawe en nou is Pa vreeslik die moer in, want volgens hom is die nuwe weergawe direk van Satan afkomstig. G’n Christen mens kan die ding werk volgens Pa nie. Ek moes maar geduldig wag totdat die ouman eers afkoel en het maar so oor sy skouer gekyk en geleer uit sy foute. Die ou het laas met die daktent episode so gevloek en gekla.
Daar het tussen my laaste beriggewing, oor die kamp by Algeria, ‘n Paar 4×4 uitstappies plaasgevind saam met oom Coenie en kie. Niks opspraakwekkends het plaasgevind nie. Pa het net geleer om die withond met respek te behandel en hy het die ander mense se toerusting en gedrag bestudeer met ‘n nuuskierigheid wat miskien net ge-ewenaar kan word deur ‘n tiener se nuuskierigheid oor seks.
Dit was tydens een van hierdie uitstappies wat ek my naam gekry het. Van die ander ooms in die groot karre wat al lank in die game was, het gespot met die gewone 4×4 bakkies wat so laag en lank was. Hulle het ons worshonde genoem. Ons was ook lank en laag soos worshonde, veral die Isuzus. Die ander ooms met worshonde was moerig, want hulle het dit as ‘n belediging beskou. Pa, aan die ander kant, het gehou van die idee en my op die spot gedoop na Worshond. Hy het hom nog nooit veel gesteur aan ander mense se negatiwiteit oor sekere dinge nie. Nog minder aan opgeblaasde egos.
Hierdie storie is ‘n direkte gevolg van al die vorige 4×4 verwante gebeure en ook die voorspel van die wat nog sal volg. Pa was nog sy lewe lank hierdie groot non-konformis, maar nou is daar ‘n skielike drang tot konformasie wat ma sonder woorde laat. Dit lyk kompleet asof die ou die kluts heeltemal kwyt geraak het. Hy like die hele 4×4 vibe en sal alles in sy vermoë doen om in te pas.
Waar die ou nog altyd ‘n houding gehad het van aanvaar my soos ek is of los my, gaan hy nou uit sy pad uit om in te pas. Ek moet ook net byvoeg dat Pa nog nooit juis een was vir evolusionêre prosesse nie. Die dag toe geduld uitgedeel was, het die ou nie eers in die ry gestaan nie, never mind nog van laaste in die ry gewees.
Pa se aanslag op uitdagings in sy pad was nog altyd eerder meer rewolusionêr van aard. In plaas van om dinge oor ‘n tydperk op te donner, doen hy dit sommer op een slag en kry dit oor. Daarna sal hy die vreeslik baie tyd en geld bestee om sy gemors op te ruim – hy kon uit ‘n tyds- en finansiële aspek net sowel die evolusionêre pad gevolg het. Dit sou meestal die goedkoopste uitweg gewees het en ook die minste van sy tyd in beslag geneem het. Dis nou Pa. So gemaak en so gelaat staan. Vat hom soos hy is of los hom. Vir ander mense is dit ‘n opsie, maar die res van die familie moet maar die ou se nukke verdra.
Die transformasie proses het ook ‘n rewolusionêre aanslag gehad. Sou enige iemand met bietjie sielkundige kennis Pa tydens die fase bestudeer het, sou hy geweet het hier kom moeilikheid. Pa se aksies en sy persoonlikheid was op ‘n direkte pad van konfrontasie. Hier was head-on collision aan die kom. Die ou was op ‘n collision path met homself! Pa het nou bietjie agtergrond ten opsigte van 4×4 ry, hoe 4×4 voertuie aangepas kan word, al die herwinningstoerusting wat beskikbaar is, kampeertoerusting, kleredrag en skoeisel en so voorts. Nou is dit tyd dat hy begin inpas en die die enigste manier is om soos die Romeine van ouds te maak. When in Rome do as the Romans do! Ek vermoed egter dat daar baie meer in hierdie gesegde steek as om net eenvoudig alles te copy sonder om te verstaan wat jy doen en die verwantskap tussen sommige van die komponente wat deel vorm van 4×4 uitstappies te verstaan.
Die ou besluit my agterste bumper, of “die ploeg”, soos hy daarna verwys, moet eerste vervang word met ‘n tipe wat nie so sal vassteek as ek deur dongas en slote moet ry nie. Die vervaardigers van die spesifieke reeks van Isuzus, dis nou ekke daai, het blykbaar geen insig in off-road ry nie of dalk was dit hul perverse sin vir humor. Die bumper is so geplaas dat hy by elke slootjie haak en dan is dit ‘n vreeslike gedoende om my weer los te kry. Pa het later gatvol geraak en elke keer as die bumper haak het hy voet neergesit en wat ook al agter gehak het, is met geweld plat gevee met die grond of uit geruk. Ek vermoed dat die geruk en plukkery makliker nog ‘n paar millimeters tot my lengte gevoeg het.
Die nuwe agterste bumper wat Pa laat opsit, lyk toe after all baie sexy. Pa sou eers heelwat later agterkom watter tekortkominge die nuwe bumper gehad het en hoeveel mense daar buite is wat arme onkundige 4×4 eienaars, soos Pa, afrip. Die groot geheim is om jou tyd te vat en jou huiswerk te doen. Dit beteken jy moet met baie mense praat oor baie goed. Jy moet ook seker maak jy praat met die regte mense om by die kundige verskaffers en vervaardigers van 4×4 toerusting uit te kom. Dis gewoonlik mense wat self die stokperdjie beoefen. Vir eers is die nuwe verandering aan my goed genoeg en beslis ‘n verbetering op die oorspronklike bumper.
Die volgende ding, en volgens Pa die belangrikste, is om die patetiese nudge bar waarmee ek uitgekom het te vervang met ‘n regte bull bar. Volgens Pa sal ek dan ook so aggresief en reg vir die ding lyk soos die ander 4x4s. Soos gewoonlik maak Pa weer sy mind op binne ‘n bestek van 10 minute en een Saterdag oggend vat ons die pad om ‘n bull bar te laat opsit. Pa stop by ‘n plek wat uitlaatstelsels en bull bars verkoop. Toevallig is die plek omtrent twintig meter van ‘n 4×4 winkel waar die regte bull bars verkoop word. Ek weet nie of dit onnoselheid of blote obsternaatgeit was nie, maar die ou gaan kyk nie eers by die 4×4 winkel nie. As ek kon sou ek hom onder sy gat geskop het tot binne in die 4×4 winkel, maar ek kon nie en was dus heeltemal aan sy genade oorgelaat.
Hy laat hom inpraat in ‘n kontrepsie wat lyk soos een van daai ou groot plaashekke. Dit kos hom ook omtrent ‘n plaas se prys. Heel in sy skik ry ons huis toe. Hy sê vir my: “Ou Worshond, nou gaan ons hulle wys! Nou lyk jy soos ‘n Worshond met baie byt”. Ek het egter meer gelyk na ‘n Worshond met ‘n Rotweiler se bek met draadjies in. By die huis gekom is ma en die boeties geroep om na die “nuwe” Worshond te kom kyk. Daar staan ek toe in al my glorie en baie verleë. Nie Ma of die boeties was juis vreeslik beindruk met die bull bar nie. Ernie het sonder omhaal van woorde vir Pa gesê dit lyk k@k en terwyl Pa hom ernstig aanspreek oor sy kru taalgebruik, het ma die geleentheid gebruik om stilletjies weg te sluip terug huis toe. Ek vermoed dat Pa teen die tyd ook al begin twyfel het oor die wysheid van sy daad. Hy besluit toe opslag dat ek nou vir eers uitge-sort is.
Volgende aan die beurt was Pa self. Hy wou stewels hê. Iewers op een van die uitstappies moes iemand hom beindruk het met ‘n paar stewels. Hy grawe in die wendy huis op soek na sy ou army balsak waarin hy weet sy ou army stewels sal wees. Die stewels was nog altyd te groot gewees vir hom.
Die dag toe hulle dit vir hom in die army gegee het, het hy gekla dat dit te groot was en gevra of hy dit nie kan omruil nie. Die sersant het hom uitgeskel en gesê daar is niks fout met die stewels nie en Pa twee keer laat hek toe hardloop. Volgens die sersant was dit Pa se voete wat te klein was en nie die stewels wat te groot was nie. Daar was niks wat die army vir Pa kon doen nie, aangesien hulle nie sy voete kon groter maak nie. Hy moes maar twee pare sokkies dra om die stewels te laat pas.
Toe ma die stewels sien, steek sy vierkantig in haar spore vas en beveel Pa om dit dadelik weg te gooi of vir die huishulp te gee. Daar was nie ‘n manier wat sy in die publiek saam met Pa en die stewels sou verskyn nie. Ek vermoed dat Pa oor die stewels vir hom gevoel het soos oor die bull bar vir my. Dit vertoon ‘n mate van outoriteit. Pa verval in ‘n diepe stilstuipe na sy verloor met ma. Na ‘n week van geen dialog tussen Pa en ma, behalwe ‘n “ja” of “nee” grom van sy kant af nie, beredder ma die situasie deur aan te bied om Pa na ‘n skoenfabriek by Wellington te neem waar daar heel moontlik stewels sal wees wat makliker op die oog sal val en ook aan sy voete sal pas.
Pa kry sy sin en ‘n paar smart stewels op die koop toe. Die ou koop ook ‘n nagemaakte Leatherman vir ‘n bargain. Saam met al die ander gadgets begin die ou nou ‘n gedaante verwisseling ondergaan. Hy reken hy behoort nou te begin in blend by die ander manne.
Hy koop genoeg ammo kaste om die hele Suid-Afrikaanse weermag mee uit te rus. Dit blyk die mees gewilde manier van pak onder die manne te wees. Ma blom, want nou het kan sy haar heiligdom – die kombuistoerusting en kos – apart van al Pa se herwinningstoerusting en ander kamptoerusting stoor. Nou begin Pa voel hy is gereed vir die besigheid en kan hy nie wag vir die volgende uitstappie om te sien hoe hy in blend by die res van die groep nie.
Die volgende uitstappie, ek kan nie meer onthou waarnatoe nie, word met groot afwagting ingewag. Die Vrydagaand voor ons vertrek moet al die pakwerk gedoen word. Ma pak die ammo kaste sodat Pa kan laai. Skielik besef Pa dat daar nou te veel ammo kaste is en dat hy ‘n regte army lorry sal nodig hê om alles te vervoer. Daar is nou ‘n groot behoefte aan prioritisering. Pa vra dadelik dat ma al die kos moet uitpak. Elkeen het net 3 blikkies Bully Beef en Baked Beans nodig. Hy het lank daarop in die army survive. Die koelboks met die drank kry eerste prioriteit, daarna die herwinningstoerusting, dan die tente en slaapsakke en laaste die kos. Die Worshond het net beperkte plek.
Toe breek daar ‘n helse rewolusie uit. Ma en seuns stuur soos een man vir Pa in sy moer met Bully Beef en al. Dit is nie die army nie en daar is nie ‘n manier dat hulle die heel naweek van Bully Beef en Baked Beans gaan leef nie. Die Baked Beans laat gewoontlik vir Pa vreeslik stink poep en hy gaan die familie net weer in die oë sit by die ander mense. As Pa wil leef soos in sy army dae, dan moet hy maar alleen gaan. Hoekom vat Pa in elk geval drie kaste bier saam. Daar is nie ‘n manier wat hy in elk geval soveel bier op ‘n naweek kan uitdrink nie. Hulle los Pa net so met die hele pakkasie en gaan binne toe om TV te kyk. Ter verdediging van Pa moet ek in alle eerlik byvoeg dat Pa nie werklik so ‘n groot drinker is nie. Hy is net altyd bang die drank raak op voor die naweek opraak.
Pa besef dat hy nou op groot skaal aangejaag het en dat hy op een of ander manier weer die lot aan sy kant moet kry. Hy bied aan om die Baked Beans met Sweet Corn te vervang, want die het nogal ‘n heel aangename smaak. Die reaksie op sy aanbod bring Pa tot die besef dat hy heelwat beter as Sweet Corn sal moet doen om weer in almal se goeie boekies te kom. Op die ou end het Pa maar twee kaste bier en ‘n paar ander dinge wat in elk geval oorbodig was agter gelos om plek te maak vir al ma se noodsaaklikhede. Die ou voel egter in sy diepste wese gekrenk dat sy familie so bang is om bietjie swaar te kry sonder ma se lekker kos waaraan hulle so gewoond is.
Die volgende oggend is ons oudergewoonte weer lank voor die ander mense by die bymekaarkomplek. Pa is opgewonde, want hy kan nie wag om vir die ander mense te wys hoe goed hy nou inpas by die crowd nie. Die eerste klompie mense wat na ons opdaag is nuwelinge en hulle kom snuffel dadelik aan my aangesien hulle onder die indruk is Pa is een van die ou manne. Die ou is in kakie geklee, kompleet met onderbaadjie en al. Al die ander mense het dik jasse aangehad weens die koue, maar Pa het te veel gehad om te wys. Hy sou eerder vrek van die koue, maar hy het te veel nuwe klere en gadgets aan wat ‘n jas net gaan verberg en sodoende afbreek doen aan sy status. Hulle sê nie verniet dat eenoog koning is in die land van die blindes nie.
Pa verduidelik aan die ander mense hoe die uitstappies gewoonlik werk en almal hang aan sy lippe. Duidelik besef hulle nie hoe gevaarlik Pa op die stadium is nie. Hy weet te min om te besef hoe min hy werklik weet. Die ander oom is duidelik beindruk met my nuwe bull bar en Pa swel van die trots. Volgens hom is ek nou reg om enige hindernis aan te pak. Hy sal vandag bietjie vir die mense wys hoe ry ‘n worshond.
Toe die ou manne begin opdaag kan Pa nie wag dat die gewone gesnuffelry moet begin nie. Hy het soveel om te wys. Hopelik sal sy status in die groep ook bietjie styg. Toe niemand hulle aan hom, of my, steur nie, het hy later so half onge-erg vir een van die ou manne nader getrek om my eie metamorfose gade te slaan. Die ou was glad nie beindruk met die bull bar nie en verduidelik aan Pa die konsep van approach angle, departure angle en roll-over angle. Lyk my Pa het die aspekte verwar met begrippe uit die Kama Sutra. Volgens die oom verander die bull bar my approach angle van swak na non-existant. Nou gaan ek ek weer voor vashaak, in plaas van agter.
Die res van die naweek het die manne Pa se siel uitgetrek oor die feit dat hy plaashekke moet oopmaak voordat hy daardeur ry. Pa het so in die stilte homself verwyt en hom voorgeneem om volgende keer sy huiswerk beter te doen. Ma en die seuns het elke oomblik benut om hom te laat verstaan hoe ‘n stupid clod hy nou eintlik is. Shame, dit was seker een van die langste naweke in Pa se lewe. Ter ere aan Pa moet ek byvoeg dat hy sy pak soos ‘n man gevat het. Hy het die naweek baie tyd by die ou manne spandeer om te verseker dat hy die verskille tussen die Kama Sutra en 4×4 handleidings deeglik verstaan. Sy eerste prioriteit nou was om die plaashek aan ‘n ander sucker af te smeer en die regte bull bar aan te skaf.
Meer hieroor by ‘n latere geleentheid
© ERNYST 2019. Website by ERNYST