Memoirs van 'n Worshond - Deel 6

Hierdie storie volg eintlik op die katastrofe van die daktent opsit waaroor ek in ‘n vorige episode vertel het. Jammer Antie Trix en ander as ek bietjie stil was die afgelope tyd, maar dis eintlik Pa se skuld.

Pa wil nie vir my die rekenaar se password gee nie. Kwansuis omdat hy bang is ek word blootgestel aan al die pornografie en ander sondes op die Internet. Ek dink egter dat hy net bang is ek kom af op al sy eie pornografie wat hy op sy rekenaar stoor. Ek hoor mos wat sê die ander 4×4’s van hulle se base en wat hulle alles aanvang. Mense dink mos ons 4×4’s is stupid en verstaan nie alles wat hulle aanvang nie.

Die ou kêrel was die afgelope tyd so besig met werk, die inrig van Trevor se klankateljee en dies meer dat ek nie ‘n kat se kans gehad het om naby die rekenaar te kom nie. Shame en toe beland die ou mos verlede week en Vrydag in die ICU by die harteenheid. Pa het by die werk begin sleg voel met borspyn wat later gesprei het na sy linker arm. Toe hy boonop begin sweet, het hy baie benoud vir ma gebel om te reël vir ‘n afspraak by die dokter. Gelukkig werk albei by dieselfde plek. Pa het regtig gedink sy laaste uur het aangebreek. Hy sê hy het al gehoor hoe val die kluite op die kis se deksel. Die dokter het hom dringend verwys na die harteenheid vir observasie. Daar is ‘n angiogram gedoen, wat gelukkig gewys het sy hart is OK en is hy weer dieselde aand ontslaan. Nou is die mediese wetenskap besig om allerhande eksperimente op die ou te doen om te probeer verstaan wat nou eintlik fout is. Solank hulle hom net nie kloon nie. Pa is ‘n liewe en goeie mens, maar een van sy soort is genoeg. Dankie!

Shame arme ou Trevor het omtrent 5 kilometers gestap om by sy kar, wat by ‘n motorhawe was vir herstelwerk, te kom om by Pa uit te kom. Hy het net vir sy baas by die werk, waar hy deeltyds werk terwyl hy studeer, gesê sy pa het hom nodig en toe gewaai. Pa was nogal heel aangedaan oor die gebaar van liefde. Pa sê sy water wou net breek toe Ma dit vir hom vertel. Dit het die res van die naweek geneem om die graf wat vir Pa gegrawe is, weer toe te gooi. Onkruid vergaan mos nie! Dit lyk my dit was ‘n baie diep gat, so asof die mense wou seker maak dat as hy in is, kom hy nie weer uit nie. Any way dis nou genoeg oor Pa se amperse afsterwe. Laat ek liewer vertel van die eerste trip met die daktent. Of soos Pa laas daarna verwys het: “ Daai donnerse dak-fokken-tent.”

Die uitstappie was nogal na wat as een van die moeilikste roetes – daai tyd – in die Wes-Kaap verwys was. Die Hexrivier roete. Die Saterdagoggend was ons weer, soos gewoontlik, heel eerste by die Engen One Stop langs die N1. Ek is so gemodify dat ek skoon aan ‘n identiteitskrisis ly. Weet nie meer wat ek nou eintlik is nie. Ekstra bladvere en verstelde torsion bars vir meer grondvry hoogte, ‘n free flow exhaust stelsel en ‘n regte egte bull bar, wat my nogal laat sexy lyk. ‘n High lift jack is voor op die bull bar vasgebout . Pa het dit iewers op iemand anders se voertuig gesien en toe die idee gecopy. Daar was so ‘n orige ou Landrover wat nie sy oë van my kon afhou nie. Ook maar goed dat Pa dit nie gesien het nie. Hy sou eerder ‘n Land Cruiser – Isuzu kruising wou sien.

Pa is vrot van die kakie en lyk soos iemand wat uit ‘n time warp ontsnap het. Hy sou nogal goed ingepas het in ‘n Boere kommando uit die Anglo-Boere oorlog se dae. Om een of ander rede het hy gedink dis ‘n fashion trend vir 4×4 entoesiaste. Die yskas is vol bier. Ma sou eers later agterkom dat Pa weer van die kos, wat volgens hom heeltemal te veel was, uitgepak het om plek te maak vir nog bier. Die ou het mos ‘n helse vrees dat die drank voor die naweek gaan opraak. Na die gewone snuffel roetine – Pa sê dit laat hom altyd dink aan ‘n klomp jags honde op ‘n plaaswerf – tussen die manne en hul toerusting en voertuie val die konvooi in die pad. Dit reën so liggies en Pa is een bol senuwees. As die roete regtig so moeilik is soos die manne sê, kan daar groot sports kom as dit gaan reën.

By die roete aangekom, het die manne met grond tente eers kans gekry om kamp op te slaan. Toe is die wiele bietjie afgeblaas en daar gaan ons. Pa vra dat almal moet stilbly as ons by die moeilike dele kom, want hy moet konsentreer. Soos die duiwel dit wou hê, kry Trevor weer een van sy maniese, hiperaktiewe aanvalle, met die gevolg dat Pa een van die moeiliker hindernisse oorgaan sonder dat hy dit eers besef. Hy is so besig om Trevor wat agter sit sommer so in die ry te probeer verwurg dat hy my oor ‘n groot rots laat ry sonder dat hy dit besef. Gelukkig het Ma die stuurwiel gegryp toe Pa albei sy hande gebruik om Trevor se strot te probeer toedruk. Ons is oor die rots sonder om te stamp. Pa was so bedonnerd dat hy skoon aan die hiperventileer gegaan het. Ma het iets onthou van asemhaal in ‘n kardoes vir hiperventilasie. Die naaste ding aan ‘n kardoes was een van daai plastiese shopping bags. Sy trek toe sommer die sak oor pa se kop en druk dit onder vas teen sy keel dat die ou nie kan vars lug kry nie. Intussen het Pa gestop, vas onder die indruk dat Ma hom wil versmoor omdat hy vir Trevor probeer verwurg het. Ek dink die mense wat agter ons gery het gedink ons hele familie is stapel gek. Toe ons stop, het die oom nader gestap om te kyk of daar ‘n probleem was. Ek wonder wat hy gedink het toe hy Pa met die sak oor die kop en al stoeiend met Ma gesien het. Hy het sommer dadelik omgedraai en teruggestap na sy voertuig toe. Seker bang hy is volgende op Ma se hit list en vas onder die indruk dat dit die Van Helsdingens is wat voor hom ry.

Hoe verder ons die berg op is, hoe skuinser was die roete. Met die daktent op was dit nogal scary aangesien my swaartepunt nou baie hoër was en dit heeltyd gevoel het of ek enige tyd kan omval. Pa het later met sy een boud op die deurpaneel gesit, so skuins was die roete. En dan ly die ou nog aan hoogtevrees ook. Ek dink nie hy het al ooit so baie in sy lewe gebid nie. Skielik kom die konvooi tot ‘n stop. Oom Coenie het ‘n band verloor teen ‘n skerp klip. Sy voertuig staan teen ‘n ongemaklike opdraand en almal besef dat hierdie ‘n baie moeilike wiel omruilery gaan wees. Oom Coenie is moerig – seker vir homself – en is eintlik bloedrooi in die gesig. Pa sê dit lyk asof oom Coenie so 10,000 Watt uitstoot. Lyk of mens kan hare droogmaak met hom.

Almal is nuuskierig en probeer om niks van die aksie te mis nie. In die proses is daar kort-kort iemand in oom Coenie se pad en hy begin later sulke moerige blaffies in die mense se rigting te gee. Dit lyk kompleet asof die mense later beurte maak om in mekaar, sowel as in oom Coenie se pad te staan. Almal wil help, maar doen in die proses meer kwaad as goed aan oom Coenie se gemoedstoestand. Die infra-rooi intensiteit is teen die tyd al baie hoog. Dis nou maar een ding van mansmense. Die een is altyd slimmer as die ander en weet beter. Die een sê maak so en die ander sê nee, maak liewer so. Lyk asof elkeen as die held uit die verhaal wil stap. Dit moet sekerlik een of ander oer instink wees wat nog nie deur evolusie weggevreet is nie. Eintlik is hulle maar almal ewe onnosel – of sal ek toegee, die meeste is. Daar is darem mos sekerlik meer as een regte manier van dinge doen.

Al wat mens moet doen as jy ‘n probleem met jou voertuig kry, is om ‘n bier oop te maak en ‘n entjie te gaan stap. As jy terugkom, sal iemand die probleem reggemaak het. Miskien is die hele proses ‘n deel van die jags hond sindroom waaraan alle mans blykbaar ly! Uiteindelik is oom Coenie se voertuig weer mobiel en kan ons die roete voltooi. Pa en Ma kan nie wag dat dit bedtoegaan tyd word nie, want vannag is die eerste keer dat hulle in ‘n daktent gaan slaap. Pa het seker gemaak dat die suspension geghries is en dat die spaarwiel se ketting styf getrek is. Hy het iewers gehoor dat as mens te woelig in die daktent raak, dan kom daar allerhande geluide uit die voertuig uit wat mens se game weggee. Laat middag val daar kort-kort sulke misreën buitjies. Dit pla egter nie te veel nie, want die vuur brand en die manne maak ‘n dop en bespreek die gebeure van die dag. Elke hindernis word weer gery en ontleed.

Daar was vier Engelsprekende manne wat ‘n manne naweek gehad het en dit lyk asof hulle al sommer tydens die roete begin oefen het vir die aand se kuier sessie. Toe oom Coenie begin met die gebruiklike prysuitdeling, is die manne net weg. Lyk asof hulle gaar was lank voor hulle tjops. Oom Coenie het net so ‘n grin gegee en gesê hy sal persoonlik ‘n bietjie later hulle pryse vir hulle in die bed gaan gee. Toe dit tyd raak om te braai kom Pa agter dat die pakkie wat hy uit die yskas gehaal het, om plek te maak vir nog bier, die vleis vir die aand se braai bevat het. Van baie dinge weet Pa niks, maar van een ding is hy nou baie seker en dit is dat Ma vreeslik die moer in gaan wees. Die ou het nogal lank gewik en geweeg oor hoe hy die nuus aan die res van die familie gaan oordra. Op die ou einde besluit hy dat aanval die beste vorm van verdediging is en hy stuur vir Ernie om die vleis te gaan haal. Hopelik kan hy dan sommer die skuld ook skuif na Ernie se kant toe. Ernie was hoeka op die roete doenig met die yskas om koeldranke uit te haal. Miskien het hy die vleis langs die pad neergesit en vergeet om dit weer terug te sit in die yskas. Ernie kom terug met die nuus dat daar niks kos in die yskas is nie. Die hele yskas is vol bier. Toe is Pa in die kak! Hy probeer nie eers sy trick om die skuld op Ernie te probeer pak nie, want hy besef Ma is nie stupid nie en sal dadelik deur sy plan sien. Almal is honger en moerig en Ma sê dat dit die laaste strooi is. As Pa nie die vleis verbrand omdat hy so aan die gesels gaan met die ander manne dat hy daarvan vergeet nie, dan los hy die kos by die huis om plek te maak vir sy dop. Dis die laaste keer dat sy en die kinders saamkom, want so kan dit nie aangaan nie.

Gelukkig het sy brood saamgebring vir braai broodjies en het van die ander mense hulle oor Ma hulle ontferm met ‘n tjoppie hier en ‘n worsie daar. Net Pa mag niks gekry het oor sy stupidgeit nie. Die ander manne het die petalje moerse geniet en oom Coenie het Pa twee keer gestraf met daai lekker withond waarvoor Pa so lief is. Pa het homself ook twee keer gestraf, maar dit het net Ma se toorn vererger. Laat aand is dit nog net oom Coenie, Pa, Oom Kobus en oom Dirk wat by die vuur kuier. Die ander mense was nie meer lus vir die reën nie en het maar gaan inkruip. Oom Coenie sê toe hy dink dis nou tyd dat ons ‘n besoek aan die Ingelse bring en ons sê die saak is reg. Op daai stadium sou enige saak seker reg gewees het. ‘n Flank aanval word beplan. Dis nou weer Boer teen Brit. Oom Coenie stap voor en die res volg hom strompelend in die donker. Oom Kobus stap moeilik aangesien hy sy een knieskyf in ‘n motorongeluk verloor het. Die Ingelse het so entjie van die res van ons gekamp en oom Kobus kon nie vinnig deur die dongas en slote stap nie.

By die Ingelse se kampplek sien ons dat hulle nie ‘n tent saamgebring het nie, maar net ‘n awning langs die kant van hul Landrover opgeslaan het. Die arme Ingelse lê ingeryg langs mekaar in hul slaapsakke en slaap soos onskuldige babatjies. Oom Coenie probeer hulle wakker kry om hulle ‘n strafdop te gee omdat hulle die prysuitdelery gemis het, maar sonder sukses. Ou Bacchus het sy job goed gedoen. Die reën het bo-op die awning opgedam en die hele dak maak so ‘n groot tiet van die water. Oom Kobus het dit nie gesien nie en wou die awning afslaan sodat die Ingelse heelnag in die reën kon slaap. Die volgende oomblik val daai hele dam water op die Ingelse.

Babel – soos in die ou Testamentiese se Babel – se verwarring was nie ‘n patch teen die verwarring wat toe onder die Ingelse ontstaan nie. Shame, hulle het seker gedink dat daar ‘n damwal iewers gebreek het en dat die hele lot opslag gaan versuip. Die een Ingelsman het seker so 30 meter ver binne in sy slaapsak gehardloop voordat die zip die gees gegee en hy oor sy eie voete en die slaapsak gestruikel het. Gesig eerste in die modder. Ek sal nogal graag wil weet wat op daardie oomblik in sy kop aangegaan het!

Toe Pa hulle die water sien val, vlieg hulle soos een man weg en hol sodat die Ingelse nie moet sien wie daar was nie. Skielik is dit asof ‘n engel uit die hemel vir oom Kobus aanraak, want hy hol toe vir Pa hulle weg met stywe been en al. Pa sê hy het al van geloofsgenesing gehoor, maar in hierdie geval was dit oom Kobus se geloof dat die Ingelse hom gaan donner as hulle hom vang, wat vir sy tydelike genesing gesorg het. Pa sê hy kon sweer hy hoor hoe fluit oom Kobus se skoene toe hy wegspring.

Pa duik, tot Ma se ergernis, met nat klere en al in die daktent in. Hy het skoon vergeet van die romantiese planne wat hy gehad het om die nuwe daktent in te wy. Sy shares by Ma was in elk geval moer toe en selfs al het hy onthou, sou hy in elk geval niks gekry het nie. Ma was later lekker moerig vir Pa omdat hy heelnag gelê en giggel het soos ‘n bakvissie. Pa sê hy het nooit geweet dat mens so vinnig uit ‘n slaapsak kan klim, soos die Ingelse, sonder om die zip oop te maak nie. Die volgende oggend is die Ingelse baie nat en bedremmeld en probeer hulle verstaan hoe die awning sommer so vanself kon afslaan. Tot Pa hulle se verligting kon hulle niks onthou van die vorige nag se dinge nie. Nodeloos om te sê dat niemand hulle reggehelp het nie.