As daar nou een ding is wat vir Pa grensloos irriteer, is dit as iemand (anders as die familie) hom wil help met kamp opslaan. Hy weier ook volstrek om vir enige iemand anders te help, behalwe as die persoon gestrem is of as daar regtig te min hande is om ‘n spesifieke ding te doen. Pa se motto is dat daar basies 2 vereistes is as dit by kamp kom. Eerstens moet jy die nodige toerusting hê en tweedens moet jy weet hoe om dit te gebruik.
Ek kan my somtyds vergaap aan die dinge wat mense alles aanvang tydens die kamp episodes. Kampeerders kan in ‘n paar basiese kategorieë verdeel word.
Eerstens is daar die ouens soos Pa wat gaan kamp omdat hy lief is vir die natuur en wil weg vlug van die beton oerwoed en al die stress en dinge wat daarmee saamgaan, veral ander mense. Hierdie spesie kampeerder versteur nie die natuur nie, is bewaringsbewus en neem ander mense in die omgewing in ag. Hulle filosofie ten opsigte van ander mense is: moenie my pla nie en ek sal nie vir jou pla nie. Musiek by die kampplek is taboe. Daar is genoeg tyd by die huis om na musiek te luister. Vir hulle sorg die natuur vir musiek.
‘n Ander bitter irreterende spesie is die ou wat saam met sy gesin gaan kamp, maar meeste van die tyd saam met sy drinke broers deurbring. Die tipe is gewoonlik van die eerstes wat op nuwe aankomelinge se werf kom snuffel in die hoop om ‘n drink pel te ontmoet. Sy arme vrou sit gewoonlik alleen eenkant en moet maar die kinders besig hou.
Dan is daar die rumoerige klomp waar ma net so hard soos pa kuier en die twee vorm ‘n gedugte span wat heeltyd drinkmaatjies soek. Uiteindelik kom al die ouens wat elders weggewerk word by die paartjie bymekaar en dan is dit ‘n lawaai en rumoer tot laat in die nag. Vir die spesie is kampeer net ‘n plek waar ander mense ook kan waarneem hoekom die klomp se bure nie van hulle hou nie. As daar te min hout is vir ‘n ordentlike drinkvuur sal die span ook maklik bosse en bome afkap vir brandhout.
Pa het ‘n pel met die naam van Herman. Sy vrou se troetelnaampie vir hom is “Lovey”. Pa het hom aanvanklik hieroor gespot, maar nou noem Pa hom ook Lovey. Pa en oom Lovey het eendag die hele drankwinkel, waar hulle gewoonlik proviand koop, op hol gehad. Oom Lovey wou vir Pa een van die specials wys en roep toe:” Hey Spyker. Kom check gou hier!” Sonder om te dink skree Pa terug: “ Wat is dit, Lovey?” Pa sê die uitdrukking op die ander mense se gesigte was een van skok. Hulle het seker gedink Pa en oom Lovey is ‘n item!
Pa nooi toe vir Oom en tannie Lovey om een naweek saam te gaan kamp. Oom Lovey is nie eintlik ‘n kamper nie, maar besluit om die aanbod te aanvaar vir die avontuur en afwisseling. Pa sê oom Lovey moenie worry oor ‘n tent nie. Hy sal sommer die kinders se tent, opblaas matrasse en slaapsakke vir hulle leen. Pa het die naweek ‘n groepie mense uitgeneem na ‘n 4×4 roete en oom Lovey hulle ry sommer saam met ons.
By die kampplek aangekom het Pa vir Oom Lovey sy tent gegee en gewys waar hy dit moet opslaan. Pa het geweet dat oom Lovey absoluut clueless was oor hoe om die ding op te slaan. Mens hoef nie sielkunde te geswot het om die uitdrukking op oom Lovey se gesig te verstaan nie. Dit was net een vraagteken?
Pa hou hom dom, iets wat redelik maklik is vir hom, en hy en Ma begin hul tent opslaan. Ma vra nog of Pa dan nie vir oom Lovey gaan help nie, maar Pa sê net: “ Moenie worry nie. Watch net. Hier gaan groot sports kom.!” Oom Lovey kan nogal ongeduldig raak en Pa weet dat hy totaal uit sy comfort zone geruk is.
Kort-kort los tannie Lovey sulke senuweeagtige giggeltjies en oom Lovey begin later geluide maak wat klink soos die voorspel tot die owerspel van ‘n mal aanstormende kalkoenmannetjie. Klink kompleet soos ‘n Hadidas met adenoid probleme! Ma vra vir Pa of hy nie maar asseblief wil gaan kyk wat aangaan nie, anders is oom Lovey weer die hele naweek bedonnerd. Pa besluit dat dit na goeie raad klink en stap[ om hulle tent om te gaan ondersoek instel.
Skielik begin Pa sulke senuweeagtige gil laggies te gee. Voor hom staan ‘n ding wat lyk soos ‘n dinasorus wat uit een of ander movie uit ontsnap het. Die ding het sulke kamme op sy rug wat amper lyk soos Soekie, Ma se sussie, se jongste haarstyl. Oom Lovey lyk asof hy in die ding se kake beland het en probeer om die gedierte op sy rug te gooi. “Lovey, wat de moer vang jy aan met my tent?” lag Pa, “Lyk my mens moet ge”swot” het om ‘n tent so op te donner!”. Tannie Lovey is histeries van die lag terwyl oom Lovey net verleë lag. Pa het toe maar vinnig vir oom Lovey gewys hoe mens nou eintlik die tent moet opslaan.
By ‘n ander geleentheid het Pa-hulle saam met tannie Tjommie en oom Deon gaan kamp. Pa noem haar tannie Tjommie omdat sy en Ma al lank pelle is en mekaar tjommie noem. Pa sê hulle het obviously nie ‘n idee wat ‘n tjommie nou eintlik is nie. Moet sê ek weet self nie wat die ou bedoel nie.
Ons en oom Grumpy hulle het al ‘n paar dae gestaan by die kampplek langs die Gamkarivier toe tannie Tjommie hulle by ons aansluit. Pa en oom Grumpy was besig om oor ‘n bier te chat en Pa het net vinnig gegroet en weer aanhou kuier by oom Grumpy. Ma was dadelik by tannie Tjommie en Pa hoor hoe tannie Tjommie praat oor hul tent wat hulle by die korporasie op die dorp gekoop het. Pa het sommer so ‘n ongemaklike gevoel gekry dat hier weer sports gaan wees, maar hou gesels met oom Grumpy.
Later kom hoor Ma by Pa of hy nie lang tentpenne het nie. Pa vra heel verbaas hoekom hulle nou juis lang tentpenne soek. Ma se die tent se vloer hang in die lug en hulle wil die vloer nader aan die grond kry. Toe weet Pa hier is kak en besluit om liewer self te gaan kyk. Hy kon nie glo wat hy sien nie. Die tent is so opgeslaan dat mens ‘n roltrap of hyser nodig het om in die ding te klim. Die vloer van die tent is omtrent ‘n meter in die lug. Oom Deon praat in tale en Pa sê hy dink eers oom Deon is besig om direk uit die Koran aan te haal. Pa sê hy het al snaakse tente gesien, maar die een vat die koek! Die pale is te lank vir die tent.
Oom Deon is vreeslik bemoerd oor die tent wat tannie Tjommie gekoop het en wy vreeslik uit oor wat hy alles aan die man gaan doen wat die tent aan sy vrou verkoop het.
Pa het die gedoente so bekyk en besluit dat dit makliker gaan wees om die tent nader aan die aarde te bring as om die aarde nader aan die tent te bring. Al uitweg is om gate te maak en die tentpale in die gate te plant.
Pa het gelê soos hy lag terwyl oom Deon in suiwer Weskus dialek vertel het presies wat hy van die tent dink.
© ERNYST 2019. Website by ERNYST