Memoirs van 'n Worshond - Deel 8

Vanoggend het Pa en Ma weer die moer in vir mekaar wakker geword. Ma is moerig omdat Pa haar heelnag wakker gesnork het en Pa is moerig omdat Ma hom aanmekaar wakkermaak en omdraai sodat hy moet ophou snork. Pa sê hy doen so 5000 revs per minuut soos Ma hom omdraai. Hy reken hy kan hom uitverhuur aan ESKOM as ‘n turbune sodat hulle hom kan gebruik vir ‘n kragopwekker. Volgens sy berekeninge kan hy maklik 500 Megawat bydra tot die kragreserwes teen die tempo wat Ma hom omdraai.

Die snork kwessie dreig nou al lankal om die de Bruins se huishouding op sy kop te draai. Ma bly dikbek vir Pa. Ek het nou die dag vir Pa hoor kla dat ‘n vrou se bekspier die sterkste spier in haar lyf is. As daai spier styf trek, kry mens glad nie haar bene oop nie. Die arme man is moedeloos, want hy kan mos nie help as hy snork nie. In sy jonger dae het sy raad aan Ma nogal gewerk. Hy het gesê as hy op sy rug lê en snork moet sy net sy bene toemaak, dan sal die gesnork ophou. Om Ma se ongeloof die hoof te bied, gee hy toe vir haar ‘n lesing oor die oorsaak en dinamika van snork.

‘n Man snork gewoonlik as hy op sy rug lê. Die rede daarvoor is dat soos hy lug intrek deur sy mond veroorsaak dit ‘n trek dwarsdeur sy ingewande en dit verlaat sy liggaam deur sy exhaust aan die onderent van sy lyf. As die man nog mooi jonk is en sy sak is nog mooi knus het hy ‘n free-flow exhaust en is daar geen obstruksie nie. Soos hy ouer raak, raak sy sak egter langer en hang die kontrepsie nou oor sy exhaust. Dit belemmer dan die lugvloei en die vibrasies daardeur veroorsaak dan die snork.

Ma se reaksie daarop was kort en bondig:”Stront, hoekom snork jy dan deesdae ook as jy op jou sy lê en slaap?” Pa het so ‘n rukkie diep in gedagte geraak, sy keel skoon gemaak en verduidelik dat soos hy ouer raak raak die sak nog langer en word dit eenvoudig ingesuig deur die lugvloei. Ma het Pa net so ‘n vuil kyk gegee en weggestap.

Pa was op ‘n stadium so moedeloos dat hy elke keer as Ma hom wakker maak in die nag, gemaak het of hy wil liefde maak. Dit het Ma vir so ‘n week afgeskrik alvorens sy maar weer met die omdraai tegniek begin het. Volgens Ma is daar net een posisie waarin Pa nie snork nie en dit is as hy op sy regter sy lê. Pa kla dat Ma nou die snorkery laat ontaard in ‘n inoefening van die Kama Sutra. Hy kan nie heelnag net op sy regter sy lê nie. Sy kop begin volgens hom al driehoekig raak van die ongemaklike slaapposisie.

Lyk my boeta Trevor ly ook aan die lang sak sindroom, want hy is nie ver agter Pa as dit kom by snork nie. Pa en Trevor het een naweek alleen saam met ‘n klomp mense gaan kamp. Omdat altwee snork is die een nie ‘n bedreiging vir die ander een se nagrus nie. Die volgende oggend vra die vrou wat langs Pa hulle gekamp het of hulle ook die rooikatte in die nag gehoor het. Die tannie was heel op haar senuwees en haar man het al tussen die tente deurgeloop om te kyk of hy die spore kan optel. Pa het net ontkennend geknik en niks gesê nie.

Die naaste wat Pa nog was aan op sy moer kry oor sy snorkery was toe hy saam met oom JP en ‘n paar ander manne gaan 4×4 roete bou het. Daar was seker so ‘n stuk of 8 manne wat die ekskursie meegemaak het. Pa, oom JP, oom Johan Tyre en oom Hein Burnettt moes ‘n huisie op die plaas deel. Daar was 2 kamers. Een met ‘n dubbelbed en een met twee enkel bedjies.

Pa en oom JP trek toe die looitjie vir die dubbelbed. Elke man het darem sy eie slaapsak gehad. Pa was bietjie bekommerd, want oom JP kan lekker bedonnerd raak as hy lus is en hy het ook die lyf en houding om vreeslik aggressief te kan lyk. Die Vrydagaand is daar tot laat gekuier en 4×4 stories uitgeruil. Die skuinstes het skuinser geraak en die roetes moeiliker soos die bottels se inhoud gesak het. Die manne het later besluit om te gaan slaap omdat die bou van die roete die volgende dag al hul energie gaan benodig.

Die volgende oggend word Pa wakker met net so ‘n effense kopseertjie, maar die word gou hokgeslaan met ‘n bier terwyl hy wag vir die koffie water om te kook. Almal is in high spirits oor die dag wat voorlê. By party manne is die spirits vlakke plain nog net hoog van die vorige aand se kuier. Daai dag is daar hard en met toewyding gewerk om die roete wat bitter lanklaas onderhoud gesien het weer tot op so ‘n vlak te kry dat mens ten minste met ‘n 4×4 daar kan ry. Laatmiddag is almal weer terug by die huisies en begin die Grieke met hul kosmaak operasie. Ek kan nie meer onthou wat dit was nie, maar volgens Pa was dit bliksems lekker. Ek dink die feit dat die manne lank moes wag vir die ete, en dus genoeg tyd gehad het om te verseker dat daar nie onnodig enige drank teruggaan huistoe nie, het ook ‘n rol gespeel om die Grieke se aanskyn te laat styg by die manne.

Kort na ete die aand begin dit vir Pa voel of hy katarakke het, want sy oë wil nie meer lekker sien nie. Oom Hein het so ‘n lang flitslig wat die son laat verdwyn as hy dit in die dag aanskakel. Hy skyn in Pa se oë om te kyk of hy enigsins iets kan sien wat soos katarakke lyk. Die lig brand amper al die senuweepunte van Pa se oogbolle af en daar is die ou toe heeltemal blind.

Oom Hein het Pa toe so in die rigting van sy huisie gepoint en darem gekeer dat hy nie weens sy gebrek aan sig in die vuur val nie. Pa bereik sy bed bloot uit instink en sy kop het nog nie die kussing gevat nie toe begin die ou al snork. Ek ken nou al die roetine en weet vanaand is hier moeilikheid, want niemand gaan vannag geslaap kry nie. Toe oom JP-hulle besluit om te gaan slaap, is Pa se sak al lekker vasgesuig in sy exhaust met die gevolg dat die vibrasies weerklank teen die kranse. Oom JP hulle dink dus vreeslik snaaks en die ander manne word nader geroep om die fenomeen te kom aanskou. Die manne is almal eens dat hulle nog nooit so iets aanskou en gehoor het nie. Pa lê daar met ‘n oop bek soos ‘n gaar snoek en kort-kort klink dit asof hy heeltemal ophou asemhaal. Oom Hein het weer sy flits gaan haal en probeer om die resultaat van Pa se post-nasal drip van sy kleintongetjie af te brand met die flits. Die manne het toe allerhande teorieë oor hoekom mens snork. Obviously het Pa nog nie aan hulle verduidelik hoe die hef nou eintlik in die vurk steek nie.

Die ander manne het later moeg geraak om na Pa te luister en gaan slaap. Iewers in die nag stamp oom JP aan Pa en sê hy moet ophou snork, want hy (oom JP) het nog nie ‘n oog toegemaak nie. Blykbaar het hy lank gewik en geweeg voor hy Pa wakker gemaak het, want hy onthou toe die storie dat Pa maak of hy wil spyker as Ma hom in die nag wakker maak. Netnou dink Pa hy is by die huis en verwar oom JP met Ma. Uiteindelik besluit oom JP toe, spyker of de not, nou wil hy slaap en Pa moet ophou snork. Pa kan hoor dat oom JP lekker bedonnerd is en besef hy moet ‘n ernstige poging aanwend om op te hou snork. Hy probeer so lank as moontlik wakker bly om oom JP kans te gee om aan die slaap te raak.

Ongelukkig vir oom JP raak Pa toe weer voor hom aan die slaap. Net nadat Pa weer die saagmeule opgestart het, kry hy ‘n air-lock. Dit raak so erg dat hy heeltemal ophou asemhaal. Toe kan oom JP weer nie slaap nie, want hy is bang Pa gaan dood langs hom. Ek vermoed dat die idée van moontlike mond-tot-mond asemhaling oom JP se grootste vrees was. Oom JP vlieg uit die bed met ‘n hele rits kragwoorde en gaan sit op die toilet langs die kamer. Die ou wat die huisie gebou het, het ‘n eienaardige idée gehad van hoe ‘n toilet moet lyk. Jy moes so side-ways inskuif om op die toilet te kom en dan is die muur reg voor jou. Oom JP sit toe op die toilet met sy kop teen die muur en probeer slaap.

Intussen het Pa die air-lock op ‘n manier gebloei gekry en snork hy voort met hernude ywer. Hy snork vir oom JP uit die toilet uit en oom JP besluit om die aftog te blaas en gaan sit buite by die oorblyfsels van die vuur. Die volgende oggend word Pa wakker en gaan langsaan na oom Johan en Hein toe. Hulle vertel Pa toe van hulle almal, maar veral oom JP, se lyding deur die nag as gevolg van Pa se gesnork. Toe Pa vra, maar waar oom JP dan nou is, wys hulle by die venster uit.

Buite by die vuur sit oom JP. Pa kan sien dat hy regtig bemoerd is, want sy bek is so dik soos ‘n kind s’n wat nie lekkers mag kry nie. Pa weet dat as hy nie vandag op sy donner wil kry nie, moet hy vinnig vrede maak met oom JP. Later kry oom Johan en Hein darem reg om vir oom JP die komiese sy van sy nagmerrie ondervinding te laat insien en kon hy darem lag daaroor.

Tot vandag toe maak oom JP altyd baie seker dat hy nie kamp opslaan naby Pa nie en dat Pa altyd wind-af van hom slaap.